Hospitale stuur TB-pasiënte huis toe
2010-08-31 20:02
Kaapstad – Pasiënte van sekere tuberkulose-hospitale in die Oos-Kaap is huis toe gestuur as gevolg van die stakings, het die provinsie se departement van gesondheid Dinsdag gesê.
Sizwe Kupelo, woordvoerder, sê twee personeellede van die departement is Dinsdagoggend in Mthatha in hegtenis geneem nadat hulle publieke dienswerkers wat nie staak nie, geïntimideer en aangerand het.
Een van dié lede is ‘n verpleegster wat tans opgelei word.
Volgens Kupelo moes die departement pasiënte van Port Elizabeth se Jose Pearson- en Oos Londen se Fort Grey-hospitale vir tuberkulose (TB), tydelik ontslaan.
Dié pasiënte is huis toe gestuur aangesien daar geen verpleegsters was wat na hulle kon omsien nie.
Volgens Kupelo is dié TB-pasiënte nie aansteeklik nie.
Slegs pasiënte wat terminaal is, is nog by die hospitale.
Kupelo kon nie bevestig hoeveel pasiënte in totaal huis toe gestuur is nie.
Meer as 140 pasiënte is van Oos Londen se hospitale huis toe gestuur, het hy gesê.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA