Hospitale se higiëne steeds nie na wense
2011-03-13 09:10
’n Jaar nadat ses babas weens swak higiëne in die Charlotte Maxeke- Akademiese Hospitaal in Johannesburg gesterf het, is dié hospitaal steeds vuil.
Rapport het gaan kyk hoe higiëne-standaarde in openbare dele van dié hospitaal en die Dr. George Mukhari-hospitaal in Ga-Rankuwa, noord van Pretoria, gehandhaaf word.
In die Charlotte Maxeke-hospitaal het ons gevind:
- Stoelgang-bakterieë op mure en deurhandvatsels in pasiënte se toilet in die ongevalle-afdeling en in die vrouetoilet naby ’n kindersaal. Ook rondom die pasiënte se wasbak in die ongevalle-afdeling;
- Min seep of handdoekies; sommige toilette sonder toiletpapier;
- Verstopte toilette en wasbakke.
In die Dr. George Mukhari-hospitaal het ons gevind:
- Stoelgang-bakterieë op die muurteëls en ’n wasbak se rand in die vrouesaal en op oppervlakke in die apteek se wagkamer;
- Geen toiletpapier of seep in toilette vir besoekers en pasiënte nie.
Rapport het met deppers monsters van oppervlakke geneem en dit na die Wetenskaplike en Nywerheidnavorsingsraad (WNNR) gestuur vir toetse vir bakterieë.
Mikrobioloë sê in hospitale (waar daar altyd ’n hoë konsentrasie van bakterieë is) is depper-monsters nie wetenskaplik betekenisvol nie.
Bakterieë afkomstig van ontlasting word egter op mensehande ingebring en hulle behoort hul hande deeglik te kan was.
Dr. Org de Bruin, mediese mikrobioloog, sê: “Gebruik jou gesonde verstand: 70% van die droë massa van jou stoelgang bestaan uit bakterieë. As jy nie jou hande was nie, kan jy die goeie werk van die beste chirurge ongedaan maak.”
Die helfte van die deppers het niks noemenswaardigs bevat nie. Die res het egter bakterieë van ontlasting en Pseudomonas aeruginosa (sien grafika hiernaas) bevat.
Dr. Trevor Fisher, uitvoerende hoof van die Dr. George Mukhari-hospitaal, het gesê dele van die hospitaal is oud en moeilik om skoon te hou.
Hy glo sy infeksiebeheer- en gehaltebeheerspanne doen goeie werk in ’n oorvol hospitaal.
Die verslag oor die Charlotte Maxeke-babasterftes vier jaar gelede lui ’n maagvirus het moontlik van “’n ma, besoeker of gesondheidswerker” gekom. Veral babas wat by geboorte minder as 1 500 g weeg, is kwesbaar vir infeksies en 6 uit 17 pasgeborenes is dood.
Die verslag beveel aan dat infeksiebeheerpraktyke – soos handewas voor en ná kontak met pasiënte – streng toegepas word.
Prof. Shaheen Mehtar, hoof van die Tygerberg-hospitaal en die Universiteit van Stellenbosch se eenheid vir infeksievoorkoming en beheer, sê gesondheidsorgwerkers is dikwels verbaas om te leer hoe noodsaaklik handewas is.
Fidel Hadebe, woordvoerder van die nasionale gesondheidsdepartement, sê dit is onaanvaarbaar as seep en handdoekies nie beskikbaar is nie.
- Rapport