Hospitaalhoofde het net st.8 en matriek
2009-09-04 08:32
Lizel Steenkamp
Kaapstad - Standerd 8 en matriek. Dít is die hoogste kwalifikasies van die bestuurders van twee staatshospitale in Noordwes en die Oos-Kaap.
Lawrence Abrahms is bykans ’n jaar lank die waarnemende uitvoerende hoof van die Nic Bodenstein-hospitaal in Wolmaransstad. Hy het net matriek en was sedert 1991 aan die hospitaal se administratiewe afdeling verbonde.
Voorts is W. Human, die uitvoerende hoof van die Temba-hospitaal vir tuberkulose in Grahamstad, se hoogste kwalifikasie standerd 8. Hy was voorheen 22 jaar lank ’n posmeester.
Dié inligting is vervat in dokumentasie wat dr. Aaron Motsoaledi, minister van gesondheid, in antwoord op ’n parlementêre vraag van die DA verskaf het.
Dit blyk uit Motsoaledi se antwoord dat bewese bestuurservaring en kwalifikasies in dié veld nie ’n voorvereiste is wanneer die departement van gesondheid hospitaalbestuurders aanstel nie.
In Noordwes het net nege van 18 hospitaalbestuurders ’n diploma of graad in bestuur; die res is meestal in verpleging en verloskunde gekwalifiseer.
Die bestuurder van die staatshospitaal in die Metsimaholo-distrik in die Vrystaat het ’n diploma in algemene verpleging en ’n bekwaamheidsertifikaat as ’n skakelbordbeampte en in tikwerk.
Voorts het die hoofde van die staatshospitale in Bethlehem en Zastron geen vorige bestuurservaring nie en is drie van die 21 hospitale – Winburg, Virginia en Jagersfontein – se bestuursposte vakant.
In Limpopo is ’n voormalige skoolhoof in 2004 aangestel as die bestuurder van die streekshospitaal in Bela-Bela.
Die bestuurder van die Voortrekker-hospitaal in Mokopane (Potgietersrus) het ’n onderwysdiploma en het voorheen as ’n kommunikasiebeampte gewerk.
’n Maatskaplike werker is in 2004 as die distrikshospitaal in Louis Trichardt as bestuurder aangestel en ’n administratiewe klerk van die onderwysdepartement is nou aan die stuur van die Nkhensani-hospitaal in Giyani.
Net die bestuurders van vyf Noord-Kaapse staatshospitale, waaronder in Kuruman, Kimberley en Upington, het kwalifikasies in bestuurswese.
- Die Burger