Hospitaal-verkragting: Personeellede geskors
2011-10-25 23:01
Bloemfontein – Twee personeellede by die Nasionale Hospitaal in Bloemfontein is geskors nadat ‘n vrou wat terminaal siek is, na bewering deur ‘n verpleër verkrag is, het Fezi Ngubentombi, LUR vir gesondheid in die Vrystaat, Dinsdag gesê.
“Die twee personeellede wat na bewering die misdaad gepleeg het, is aangesê om nie aan te meld vir diens tot die ondersoek afgehandel is nie.”
Ngubentombi het haar skok oor die voorval uitgespreek.
Die Vrystaatse polisie sê hulle ondersoek die bewerings dat ‘n kankerpasiënt deur ‘n verpleër by die hospitaal verkrag is. Volgens kapt. Harry Nagel het die 50-jarige vrou se man aan die polisie gesê die aanval het op 15 Oktober gebeur.
Volgens die vrou het ‘n verpleegster haar platgehou terwyl ‘n verpleër haar verkrag het.
“Daar is twee verdagtes, maar niemand is nog in hegtenis geneem nie. Ons wag vir ‘n besluit van die direkteur van openbare vervolgings,” het Nagel gesê.
Die vrou is na ‘n privaat hospitaal in Bloemfontein verplaas. ‘n Saak van verkragting word ondersoek.
Ngubentombi het gesê indien die aantygings waar is, moet dié wat verantwoordelik is, swaar gestraf word.
Sy het gesê die veiligheid van pasiënte is ononderhandelbaar.
“Wanneer siek mense na ons instellings kom, moet hulle met sorg en meegevoel behandel word.”
Volgens Ngubentombi het sy ‘n voorlopige verslag ontvang en ‘n interne ondersoek beveel.
Die departement het met die familie vergader en die dienste van ‘n maatskaplike werker beskikbaar gestel om emosionele ondersteuning aan die pasiënt te bied.
Ngubentombi het gesê die polisie het reeds verklarings by die hospitaal laat aflê as deel van hul ondersoek.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA