Hospitaal gee kind pap, niks medisyne
2010-03-05 12:23
Johannesburg - 'n Sewejarige seun wat MIV-positief is, lê op sy sterfbed in die hospitaal omdat 'n hospitaal en kliniek hom glo nooit antiretrovirale behandeling gegee het nie.
*Thabang weeg 11,4 kg en is in Januarie verlede jaar na die Leratong-hospitaal geneem, waar daar bevestig is hy is MIV-positief en dat hy TB het. Hy is nooit na 'n klinikus verwys vir 'n ondersoek nie.
Mediese personeel by dié instansies het ook nooit sy bloed getrek om vas te stel wat sy CD4-telling is nie, al is hy deur die Zenzele-kliniek na die Mohlakeng-kliniek verwys.
Dié klinieke verskaf glo nie antiretrovirale behandeling nie en Thabang is toe met proteïenpap huis toe gestuur.
Mandla Sidu, 'n woordvoerder van die Gautengse departement van gesondheid, het erken dat Thabang nie "volgens protokol" by die Mohlakeng-kliniek behandel is nie. Hy het bevestig dat 'n fisiese ondersoek nie deur 'n verpleegster gedoen is nie en dat die "dieëtkundige hom nie na 'n klinikus verwys het nie".
"Die saak word dringend ondersoek en drastiese dissiplinêre aksie sal indien nodig geneem word."
* 'n Skuilnaam is gebruik.
– The Star