Horings gestroop toe wapenlisensies nie kom
2011-08-24 08:06
Pretoria – Searl Derman, eienaar van die Aquila-wildreservaat in die Wes-Kaap waar stropers die naweek ’n witrenoster afgemaai het, wag glo sedert Desember verlede jaar op lisensies vir twee outomatiese gewere om sy renosters mee te beskerm.
Riaan Louw van Pretoria, Derman se prokureur, het Dinsdag gesê sulke vuurwapens is nodig omdat die stropers hoogs georganiseerd is.
Volgens Louw het Derman Maandag nog outomatiese vuurwapens gekoop waarvoor lisensies bekom moet word. Dié wapens het ’n “klomp geld” gekos.
Benewens die renosterbul waarvan die horings gestroop is, is nog een se een horing afgesaag en die tweede horing halfpad, maar hy leef steeds. Dit dui daarop dat die stropers betrap is.
Louw het gesê die stropers, wat Saterdag in die vroeë oggendure met moderne pyle toegeslaan het, het ’n elektriese saag op een renoster gebruik. Hulle moes nagsigtoerusting gebruik het. Hulle het ’n skedule 7-doofmiddel (wat net veeartse mag aanhou) gebruik. Die stropers het ’n derde, jong renoster net verdoof.
“Ons onderhandel met die sentrale vuurwapenregister oor die probleme met die uitreiking van die lisensies,” het Louw gesê.
As dít nie werk nie, sal ’n hofaansoek teen die register in die hooggeregshof in Pretoria ingedien word.
“Derman se wagte (wat net handwapens het) is nie op dieselfde vlak as die stropers gewapen nie,” het Louw gesê.
Derman het in Desember by die Seepunt-polisiekantoor aansoek gedoen om lisensies vir ’n AK47-en ’n ELG-geweer.
“Intussen beweer hy dit kos hom R15 000 per dag aan wagte om die renosters op te pas en dit moet 24 uur per dag gedoen word,” het Louw gesê.
Kol. Vishnu Naidoo, nasionale polisiewoordvoerder, het Dinsdag gesê hy sal reageer oor die lisensies sodra sy kollegas by die vuurwapenregister (wat spoedige terugvoering oor die saak belowe het) die inligting aan hom oordra.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld