Hoogdrama by atletiek-vergadering
2009-10-04 06:38
Carien Kruger
‘Ek was lus en slaan hom.”
Só het Llewellyn Herbert, voormalige Olimpiese hekkies-atleet, gister gesê in reaksie op ’n tirade van mnr. Hendrik Mokganyetsi, raadslid van Atletiek Suid-Afrika (ASA), op ’n chaotiese vergadering van besorgde atlete in Pretoria.
Mokganyetsi het gesê dis atlete se eie skuld dat borge onttrek en dat hy wat Herbert is aan atletiek deelgeneem het toe daar net wit atlete was.
Gister se vergadering op die Tuks-kampus het gevolg op twee weke van hoogdrama in Suid-Afrikaanse atletiek oor mnr. Leonard Chuene, ASA-baas, se bedenklike hantering van die Caster Semenya-geslagsdebakel.
Die atlete het die vergadering belê nadat Nedbank Donderdag sy borgskap aan ASA onttrek het. Nedbank se besluit het gevolg op Chuene se gedwonge bekentenis dat hy gelieg het oor “problematiese geslagstoetse” wat Semenya in Pretoria ondergaan het nog vóór haar deelname aan die Wêreldatletiekbyeenkoms in Berlyn.
ASA het nogtans op ’n bestuursvergadering besluit om opnuut ’n mosie van vertroue in Chuene te stel – al is daar selfs uit regeringskringe gevra dat sy kop moet rol.
“Ek’s bly ek’s klaar met atletiek: daar is nie meer borge of geld nie,” het Herbert gesê. “Toe ek deelgeneem het, was die stadions vol.”
Mokganyetsi het blykbaar ook vir Arnaud Malherbe, voormalige Olimpiese atleet en voorsitter van gister se vergadering, doodgepraat en as ’n rassis uitgekryt voordat hy aan die spits van sy juigbende van 20 by die vergadering uitgestap het.
Buite die saal was daar weer harde woorde tussen Mokganyetsi en Geraldine Pillay, voormalige Olimpiese atleet en ’n organiseerder van die vergadering. Hy het sy vinger in Pillay se gesig gedruk en een van sy ondersteuners het haar aan die skouers gegryp.
Van die jong mans in Mokganyetsi se groep – wat volgens hom almal atlete is – het sterk na drank geruik. Onder hulle was Kenneth Sedumedi, wat ’n plakkaat vertoon het met die woorde “Julius Malema rocks”.
Hy het aan Rapport gesê hy is ’n 800m-atleet, “maar is nie bekend nie, want ek oefen nog”.
Maar me. Elizabeth Ndlambo, in ’n ANC-hemp, het ruiterlik erken sy is nie ’n atleet nie. Sy het gesê die “ANC” het haar en ander van Potchefstroom na die vergadering aangery.
Die organiseerders van die atlete-vergadering het voet by stuk gehou dat hulle nie oor individue wou praat nie, maar oor 15 jaar se probleme. Dit sluit in die wanbestuur van atletiek, kommer oor die verlies van borge en swak bemarking van atletiekbyeenkomste.
Volgens Jakes van Vuuren, paalspring-afrigter, was ASA se swak hantering van die Semenya-debakel net die laaste strooi – atlete is al jare lank ongelukkig.
ASA moet reg bestuur word, dit gaan oor atlete se bestaan, het Riaan Botha, paalspringer, gesê. “Ons wil hê atletiek moet oorleef, want dit bloei dood.”
Pillay het gesê sy is baie teleurgesteld oor die verloop van die vergadering. ’n Atleet het haar vertel mnr. Molatelo Malehope, uitvoerende hoof van ASA, het “atlete” gebel en gevra om die vergadering te gaan ontwrig.
Sowat 100 mense het die vergadering bygewoon.
Onder die ander beswaardes was Burger Lambrechts, voormalige Olimpiese gewigstoter, en Hezekiel Sepeng, Olimpiese 800m-atleet.
– Rapport