Hoofregter-debakel: Zuma kap terug
2011-08-18 09:07
Johannesburg – Pres. Jacob Zuma het Woensdag teruggekap ná kritiek oor die regbank-ervaring van sy voorkeurkandidaat as hoofregter en gesê dit is ingevolge die Grondwet nie eens nodig dat só iemand eers ’n regter hoef te gewees het nie.
“Regter Mogoeng Mogoeng, wat sedert 1997 ’n regter is, is ver meer senior wat betref regbank-ervaring as regters wat op die oomblik in die grondwethof is, met die uitsondering van regters Johan Froneman wat in 1994 ’n regter geword het en Edwin Cameron, wat in 1995 aangewys is,” het Zuma se woordvoerder, Mac Maharaj, Woensdag gesê.
Maharaj sê Mogoeng, wat regterpresident in Noordwes was, is die enigste regter in die grondwethof wat só ’n hofleiersposisie beklee het.
Hy sê Zuma verwelkom die debat wat gevolg het op die aankondiging van sy voorkeur-kandidaat, maar dat daar vir hom “teleurstellende onakuraathede en verdraaiings” in die kommentaar oor sy keuse is, wat dadelik reggestel moet word “dat die debat op grond van feite gevoer kan word”.
Zuma voel ook dit is nodig dat die debat “binne die reëls van ordentlikheid gevoer kan word”. Hy sê dié debat moet nie daarop ingestel wees om Mogoeng te verkleineer of sy integriteit te bevraagteken nie.
Maharaj sê art. 174 van die Grondwet bepaal dat enige toepaslik gekwalifiseerde en gepaste man of vrou wat ’n Suid-Afrikaanse burger is as ’n regsamptenaar aangewys kan word.
Hy sê dit impliseer dat ’n regter van dié hof nie eens vooraf ’n regter hoef te gewees het nie. “Hulle kon regs-akademici, advokate, prokureurs of direkteure van nie-regeringsorganisasies gewees het.” Maharaj sê in dié opsig is regter Arthur Chaskalson aangewys as hoofregter in die grondwethof sonder dat hy eers ’n regter was. Chaskalson was ’n menseregte-advokaat voor sy aanstelling. – Sapa
Volg Nuus24 op Twitter.
- Volksblad