Hoofmeisie sterf ná ongeluk
2011-07-27 07:21
Kroonstad - ’n Pa se roerende smeekgebed op Facebook dat sy dogter met ’n glimlag uit haar koma wakker moet word, is nie bewaarheid nie.
Christel Khoury (13), vanjaar hoofmeisie aan die private skool Kroonstad Academy in die middedorp, is Maandagoggend ná ’n ongeveer twee weke lange koma in ’n Libanese hospitaal dood.
Sy was breindood, het Claire du Preez, haar tante aan vaderskant, gesê.
Christel is vroeër vandeesmaand op ’n gesinsvakansie saam met haar ouers en broers in Libanon baie ernstig beseer toe sy van ’n motorfiets geval het. ’n Motor het glo teen die motorfiets gebots.
Sy het saam met ’n volwasse familielid op die motorfiets gery, sê Du Preez.
Christel se valhelm het, na verneem word, gebars.
Terwyl haar familie steier van skok en ongeloof, het die hele skool Dinsdag berading ontvang.
Christel was deel van die bekende en invloedryke Libanese Khoury-familie, wat verskeie ondernemings op Kroonstad besit.
Twee van hul winkels was Dinsdag met Volksblad se besoek tot verdere kennisgewing gesluit.
Du Preez het Dinsdag tussen baie trane deur aan Volksblad gesê die hele familie hanteer Christel se dood vreeslik swaar.
Haar ouers, Spiro en Walida Khoury, het ná die ongeluk in Libanon aangebly. Ook mnr. Khoury is ’n sakeman op Kroonstad.
Mnr. Khoury het op 18 Julie op Facebook in Engels geskryf: “Aan al die goeie engele van Christel. Sy is uit onder verdowing en ons wag nou vir haar om wakker te word uit haar agt dae lange slaap. Ons bid dat sy met ’n glimlag wakker word en ons ’n storie vertel van die engele in die hemel.”
Hartroerende woorde van troos en bemoediging stroom die afgelope twee dae onverpoos op mnr. Khoury se Facebook-profiel in.
Du Preez sê die familie glo God het vir Christel ’n boodskap gegee dat hy haar gaan kom haal en dat haar geloof reg was.
“Op die dag van die ongeluk was daar ’n papier in haar handsak met die boodskap: No Fear! Jesus saves, Jesus Heals, Jesus Delivers. Dear friends, if today was your last day on earth, are you sure without the slightest doubt that you are going to heaven. Jesus loves you. Don’t leave this earth without him.”
Du Preez sê haar broer sal na verwagting Vrydag in Suid-Afrika aankom.
Du Preez kon nie sê wat die volwasse familielid se toestand is nie.
Greta Wiegand, skoolhoof, sê Christel was ’n saggeaarde, vriendelike en hulpvaardige kind.
“Sy was ’n uitblinker op akademiese gebied en ’n goeie leier.
“Die hele skool is hartseer en baie geskok.”
Christel se broers, Nicholas en Abe, is ook skoliere aan Kroonstad Academy.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Volksblad