Hoof van pligte onthef ná ‘mishandeling’
2010-09-19 09:26
Johannesburg - Ouers wat ’n video gesien het waarin hul kinders na bewering by ’n
kleuterskool geslaan, mishandel en verwaarloos is, vra hulself af hoe
hulle ooit weer iemand kan vertrou om na hul kinders te kyk.
In
die jaar oue video word ’n driejarige seuntjie herhaaldelik teen sy
enkels geslaan, na bewering deur Mynie Kruger, skoolhoof van die
Babbelbekkies-kleuteroord in Pretoria-Noord wat sedertdien van hierdie
pligte onthef is.
Die video wys onder meer ook ’n kind wat met ’n
tou aan ’n tafelpoot vasgemaak is en ’n ander kind wat met ’n tou aan
’n matras op die grond vasgemaak is.
Ouers het die video vroeg vandeesweek gesien en sowat die helfte van die kinders is daarna uit die skool geneem.
Met
behulp van Dana Wannenburg en Hendrika Kruger, onderskeidelik
DA-raadslid en DA-lid van die Gautengse wetgewer, is klagte by die
polisie en die Gautengse departement van maatskaplike ontwikkeling
ingedien.
Jacques Kruger, skooleienaar en die voormalige
hoof se seun, het eergister gesê sy ma is onthef van haar
skoolhoofpligte en behartig nou die administrasie en kos.
Die bewerings en video word ondersoek, laasgenoemde om vas te stel of dele daarvan opgestel is.
Ouers
het in hul kontrak met die skool toestemming gegee vir “fisiese
tugtiging binne perke”, maar Kruger het ouers in die week laat weet dat
daar geen vorm van tugtiging meer sal wees nie.
Geen onderwyser mag aan ’n kind slaan, stamp, sy hare trek of hom knyp nie.
’n
Groep ouers het aan Rapport gesê hulle het nie geweet lyfstraf by ’n
skool is onwettig nie. Van die ouers was tevrede dat hul kinders “ ’n
raps op die boud” by die skool kry as hulle stout is, maar wat hulle in
die video gesien het, het hulle geskok. Voorlopige sielkundige verslae
oor van die kinders dui volgens hulle op traumatisering.
Ouers
vertel hulle het mev. Kruger vertrou, veral omdat sy groot gewag gemaak
het daarvan dat sy haar 39 jaar oue skool volgens Christelike beginsels
bedryf.
Ouers wou nie hê Rapport moet hul name publiseer nie uit
vrees vir viktimisasie. Hulle sê die skool het regstappe teen ’n ouer
begin weens beweerde verlies aan inkomste.
Die polisie se
Ga-Rankuwa-eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele
oortredings ondersoek ’n klag van kindermishandeling.
Amptenare van die Gautengse departement van maatskaplike ontwikkeling het die skool Donderdag besoek as deel van ’n ondersoek.
Kruger het die skool die afgelope week by die provinsie begin registreer.
- Rapport