Hoof van Jhb-nooddienste geskors
2011-06-22 10:02
Johannesburg – Dr. Audrey Gule, hoof van die Johannesburgse nooddienste, is geskors, het 'n woordvoerder Woensdag gesê.
"Haar siekteverlof het Maandag geëindig. Sy is toe geskors," het Gabu Tugwana, 'n woordvoerder, gesê.
"Sy is met betaling geskors hangende die uitkoms van 'n dissiplinêre proses."
Gule, wat in 2004 aangestel is, word van bedrog en korrupsie beskuldig. Sy is sedert verlede maand met siekverlof.
Een van die bewerings teen haar is dat sy vermoedelik R200 000 van die stad se geld in haar sak gesteek en na bewering nie die kontrakte van drie beamptes in die finansiële departement, wat dít uitgevind het, hernu het nie.
Tugwana het gesê PricewaterhouseCoopers het sy finale verslag oor die ondersoek na die bewerings ses weke gelede aan die stad voorgelê.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA