Honderde vroue dalk teen dán NG leraars
2010-09-21 08:07
Beeld
Johannesburg - Tien jaar gelede was hulle enkelinge, vandag is daar tientalle, maar oor ’n dekade of twee kan daar honderde vrouepredikante in die NG Kerk wees.
Dis van die moontlikhede waaroor gister besin is by die konferensie van die NG Kerk se vrouepredikante ter herdenking van die besluit 20 jaar gelede dat hulle maar dominees mag wees.
Vanjaar se konferensie is baie anders as die een ’n dekade gelede.
Toe is nog net ses vroue as dominees bevestig.
Hulle het ’n opdraande stryd in die kerk gevoer en daar was baie trane toe hulle hul verhale vertel het.
By die huidige konferensie is die atmosfeer baie gemakliker, het dr. Elsje Büchner, een van die vroeë baanbrekers, gister
gesê.
Die gemak waarmee jong vrouedominees byvoorbeeld moederskap met die bediening kombineer, het haar veral opgeval.
Voordat vroue toegelaat is om dominees te word, was een van die groot argumente juis dat ’n vrou nie ma én dominee sou kon wees nie.
’n Teken dat die kerk al hoe gemakliker met vrouedominees word, is dat verskeie sinodes al vroue in hul moderature verkies het.
Büchner het gesê die getal vrouepredikante groei al hoe vinniger.
Waar daar in 2000 net ses was, het dit teen 2007 tot 42 gestyg en nou trek dit al by 70.
As ’n mens in ag neem dat talle manspredikante in die volgende dekade of wat gaan aftree en dat vroue dikwels al die helfte of meer van die studente in die teologieklasse is, kan die aantal vrouepredikante in die volgende dekade baie styg.