Honderde uit Jhb-gebou gesit
2011-07-07 18:00
Johannesburg – Honderde inwoners, insluitende meer as 50 blindes, is deur nooddienswerkers uit ‘n woonstelgebou in die Johannesburgse middestad gesit, te midde yskoue weersomstandighede.
“Honderde vroue en kinders, insluitende 50 blinde mense, is laat Woensdagmiddag uit hul huise gesluit,” het ‘n prokureur van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Sosio-Ekonomiese Regte, Osmond Mngomezulu, Donderdag gesê.
Die eienaar van die City Hives-woonstelblok het na bewering nie die veiligheidsregulasies nagekom nie.
Die inwoners is later terug in die gebou, op die hoek van Kruis- en Salisburystraat, toegelaat ná ‘n dringende verhoor in die Johannesburgse Hooggeregshof omstreeks 22:30.
Die hof het ‘n tussentydse bevel toegestaan om die inwoners na hul huise te laat terugkeer.
Mngomezulu, wat die inwoners verteenwoordig het, het gesê die hof “het beslis dat daar in gesprek getree moet word met mense wat in beweerde onveilige geboue woon”.
“Hulle mag nie sonder ‘n hofbevel uitgesit word nie en moet van tydelike verblyf voorsien word indien dit nodig is. Geen van hierdie dinge is in hierdie geval gedoen nie.”
Metropolisiebeamptes van Johannesburg het die inwoners uitgesit, het hy gesê.
“Die beamptes het toegegee dat hulle nie ‘n hofbevel gehad het nie, maar het gesê hulle gehoorsaam bloot opdragte.”
Wayne Minnaar, woordvoerder van die metropolisie, het bevestig dat die uitsetting plaasgevind het. “Die polisie se doel was om ondersteuning te bied,” het Minnaar gesê.
Percy Morokane, woordvoerder van die nooddienste, het gesê die uitsetting was wettig, maar dat hulle die hofbevel sal bestudeer. Hy het die perseel as ‘n “tikkende tydbom” bestembel.
Die meeste van die inwoners is volgens hom Malawiërs en Zimbabwiërs.
‘n Panneelkloppery-onderneming is ook op die grondvloer bestuur. Die bestuurder van die perseel is in hegtenis geneem.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA