Honderde dakloos ná brande in Wes-Kaap
2011-11-13 12:42
Johannesburg – Meer as 350 mense het hul wonings verloor nadat ‘n reeks brande die afgelope naweek in die Wes-Kaap uitgebreek het, het die Stad Kaapstad se rampbestuur gesê.
Wilfred Solomons-Johannes, ‘n woordvoerder, sê reddingspanne sal die geaffekteerde mense bystaan.
Daar word berig dat ses mense dakloos is nadat twee aparte brande Sondagoggend ontstaan het.
‘n Brand het omstreeks 02:30 by ‘n informele nedersetting in Khayelitsha uitgebreek. Dié brand het ‘n plakkershut verwoes en twee mense dakloos gelaat.
‘n Ander brand het omstreeks 04:00 by die informele nedersetting Siyahlala in Phillipi uitgebreek waarin twee wonings verniel is en vier mense verplaas is.
Aparte brande het Saterdag in Nyanga, Wesbank, Parkwood en Langa ontstaan. Altesaam 348 mense sit sonder skuiling nadat 93 wonings afgebrand het.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA