Honderde dakloos ná brand in Kaapstad
2012-12-02 12:49
Kaapstad – Twee mense is dood en 369 dakloos gelaat toe 'n brand vroeg Sondagoggend 'n deel van die New Rest- informele nedersetting in Nyanga in puin gelê het, het die Stad Kaapstad gesê.
Wilfred Solomons-Johannes, woordvoerder vir die stad se rampbestuursentrum, het gesê Nkosiyedwa Nqandi, 38, en Msondezi Mponda, 30, is deur die vlamme in hulle hutte vasgekeer en kon nie ontsnap nie. Hulle is op die toneel dood verklaar.
Rampbestuurpersoneel in die stad het klere, kospakkies, komberse en boumateriaal uitgedeel aan inwoners wat deur die brand geraak is.
Traumaberading is ook aan families beskikbaar gestel wat deur die sterftes geraak is.
Elektriese kabels is beskadig en die elektrisiteitstoevoer na die nedersetting is afgesny, het Solomons-Johannes gesê.
Ses hutte het Saterdagaand ook in die Vrygrond- informele nedersetting in Muizenberg afgebrand en 20 mense dakloos gelaat, het hy gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter.