Honderde Malema-ondersteuners by hof
2011-04-14 12:53
Johannesburg – 'n Bus vol ondersteuners van Julius Malema, president van die ANC-jeugliga, het Donderdag by die hof opgedaag.
Malema word deur die burgerregtegroep, AfriForum, van haatspraak aangekla oor die sing van die woorde "Skiet die Boer" of "awudubhule ibhunu".
"My president, my president, los my president uit," het een van die ondersteuners geskree.
Malema was geklee in 'n grys pak met 'n pers hemp vir die saak in die gelykheidshof.
Hy het Woensdag buite die hof aan ondersteuners gesê hy gaan die saak wen.
"Ons gaan wen, want ons is kinders van wenners," het hy gesê.
Malema was geflank deur lyfwagte en die ANC-LP, Winnie Madikizela-Mandela.
"Ons doen goed, ons prokureurs doen baie goed... julle is ware vriende, ware comrades," het Malema gesê.
Hy het Madikizela-Mandela bedank en na haar verwys as "sy ma".
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA