Honderde Kersbabas maak hul opwagting
2010-12-25 22:18
Kaapstad - Honderde Kersbabas het sedert middernag hulle opwagting in hospitale landwyd gemaak.
Altesaam 75 babas, 33 seuns en 43 meisies, is tussen middernag en vyfuur Saterdagoggend (vanoggend) in KwaZulu-Natal gebore.
Vyf-en-vyftig Kersbabas het hulle opwagting in Limpopo gemaak tussen middernag en sesuur Saterdagoggend.
In die Vhembe-distrik is die meeste babas, altesaam 20, gebore. In Mpumalanga het 40 nuwe babas sedert middernag hul eerste lewenslig aanskou. Vier-en-twintig is meisies en 16 is seuns.
Een van die nuwe aankomelinge weeg 'n skrale 1,4kg.
Dertig Kersbabas is sedert middernag in die Oos-Kaap gebore, 18 seuns en 12 meisies. Die eerste baba is een minuut ná middernag by die All Saints Hospitaal in Engcobo gebore. By die Mount Ayliff Hospitaal was die eerste aankomelinge 'n tweelingboetie en sussie.
In die Kaapse Metro is altesaam 19 Kersbabas sover gebore. In die Somerset Hospitaal in Kaapstad is 10 babas, ses seuns en vier meisies, sedert middernag gebore.
In die Tygerberg Hospitaal is 'n seun kwart voor een Saterdagoggend gebore en in die Mowbray Hospitaal is 'n meisie en 'n seun die nuwe aankomelinge.
In die Groote Schuur Hospitaal het 'n seuntjie om half-twee Saterdagoggend sy eerste skreeu gegee.
In Johannesburg is die eerste Kersbaba, Christina, kort na middernag in die Charlotte Maxeke Hospitaal gebore.
Tot 'n rukkie gelede het altesaam 12 babas by dié hospitaal hul eerste lewenslig aanskou.
Agttien babas is sedert middernag in hospitale in die Noord-Kaap gebore. Die eerste Kersfeesbaba was 'n dogtertjie, wat 3,6kg geweeg het. Sy is by die Warrenton-hospitaal gevang. Verder is daar nog agt meisies en nege seuns gebore.
- Volg Nuus24 op Twitter.