Honde verjaag plaasaanvallers
2011-09-21 09:06
Brandfort – ’n Bejaarde boer en sy vrou is genadiglik ongedeerd nadat hul honde vermoedelik twee keer vandeesweek aanvalle op hul plaas voorkom het.
Abrie Greyling (79) se vrou, Ria (70), is Dinsdag en Sondag in die oggendure wakker geblaf deur hul vyf honde.
Mnr. Greyling se dogter, Lorraine Greyling, vertel haar stiefma het Sondag omstreeks 01:00 wakker geskrik van die honde se geblaf. Kort daarna was daar ’n groot geraas en gekap by die agterdeur. Drie aanvallers was besig om die agterdeur af te breek.
“Sy het my pa gaan wakker maak. Sy gehoor is nie meer goed nie en hy het nie wakker geword nie. Die diewe is intussen na die sydeur. My pa het die kamerlig aangesit. Hulle het seker geskrik, want hulle het weggehardloop.”
Die honde het toe weggehardloop en eers later teruggekom. “Ons weet nie wat hulle met die honde gemaak het nie, of hulle dalk geskop is nie. Hulle was baie verbouereerd.”
Dinsdagoggend vroeg het die honde weer onophoudelik begin blaf. “Die diewe was vir seker terug, maar toe my pa gaan kyk, was hulle weg.”
Greyling sê sy het op dié plaas buite Brandfort grootgeword. Haar pa bly al 45 jaar hier.
“Ek weet mens kan seker nie vasklou aan die sentiment nie. Dit is nie meer veilig nie. Dit is nêrens meer veilig nie. Ons sou die naweek na ’n familietroue toe gaan, nou kan ons nie. My pa kan nie die plaas alleen los nie en ons kan hom nie alleen los nie. Dis hulle hele lewe wat daar is.”
Mnr. Greyling sê dit is net genade dat hy en sy vrou nie iets oorgekom het nie.
“Gelukkig het ons kwaai honde. As ek sien hoe het hulle die veiligheidshekke oopgebreek, dik kettings en slotte, dan weet ek nie hoe moet mens beveilig nie. Hulle soek sekerlik net geld en wapens. Die polisie het puik gereageer. Ons sal seker moet padgee, een of ander tyd.”
Lt.kol. Annelie Wrensch, polisiewoordvoerder, sê niemand is nog in verband met die voorvalle aangekeer nie. ’n Klag van poging tot huisbraak word ondersoek.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Volksblad