Honde nie welkom op dié Kaapse strande
2012-12-04 14:02
Kaapstad – Honde is op drie van die Moederstad se mees gewilde strande verbied en nóg honde-vrye strande is in die vooruitsig, berig iol.
Ingevolge nuwe regulasies van die stad Kaapstad, word honde nie meer vanaf 1 Desember op Kampsbaai-, Mnanadi- en Clifton Vierde Strand toegelaat nie.
Hondestappers wat dié strande gebruik sal swaar boetes opgelê word.
Die stad sal volgende week 'n volledige lys van strande publiseer, waar honde nie die somerseisoen toegelaat is nie.
Tandeka Gqada, burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsdienste van die stad Kaapstad, het gesê die teenwoordigheid van honde op die stad se strande is 'n omstrede kwessie, wat baie openbare debat veroorsaak het.
Sy het gesê die besluit is nie 'n nuwe beleid nie, maar eerder 'n stelsel wat die stad tydens die vakansietydperk in plek stel.
Richard Bosman, uitvoerende direkteur van veiligheid en sekerheid van die stad, het gesê die metropolisie sal gereeld patrollies op strande doen om die stad se verordeninge te monitor.
– Lees meer hier
– Volg Nuus24 op Twitter