Honde in toe sleepwa na Angola gesmokkel
2011-11-24 09:02
Theuns van der Westhuizen
Kaapstad – ’n Toe Venter-sleepwaentjie propvol honde was van die Moederstad na Angola onderweg.
Dít is waarop die polisie Woensdag afgekom het toe hulle ’n motor en sleepwaentjie by die Vioolsdrif-grenspos deursoek het.
“Vier Angolese burgers is omstreeks 12:00 voorgekeer met 24 honde in hul motor en in ’n sleepwaentjie agter die motor,” het lt.kol. Paul van der Westhuizen, bevelvoerder van die polisie by grenspos, Woensdag vertel.
“Daar was allerhande honde – rottweilers, alsatians (Duitse herdershonde), pitbull-terriërs (Amerikaanse veghonde) en party van gemengde herkoms. Daar was oues en jonges, reuns en tewe, en van verskillende kleure.
“Die vier mans het ’n uitvoerpermit getoon, maar dit was ’n vervalsing.
“Hulle wou nie veel praat nie, maar het gesê die honde kom uit die Kaap en is op pad na Angola waar hulle teen $10 000 (sowat R84 000) elk verkoop word. Ons kon nog nie vasstel waarvoor mense die honde wil hê nie, maar ons vermoed dat dit vir hondegevegte is.”
Die mans kon nie besonderhede gee oor die plek of plekke in Kaapstad waar hulle die honde aangeskaf het nie.
Die honde is intussen na Upington geneem, waar hulle in die sorg van die Dierebeskermingsvereniging gelaat is.
Die saak word ondersoek en die vier mans sal binnekort op aanklagte ingevolge die Wet op Dierebeskerming in die landdroshof op Springbok verskyn.
“Ons kry soms vreemde goed hier by die grenspos. Ons het twee weke gelede op R500 000 se vervalste goedere beslag gelê, en drie weke gelede op R1 miljoen se dagga wat na Namibië op pad was,” het Van der Westhuizen gesê.
Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger