Hond klouter uit graf uit
2010-03-27 05:45
Kaapstad – ‘n Jong bull mastiff herstel in ‘n dierehospitaal nadat hy lewend begrawe was op die Kaapse Vlakte.
Die hond was Donderdag in ‘n vlak graf in die Kuilsrivier-omgewing gevind, het Sarah Scarth, woordvoerder van die Dierebeskermingsvereniging gesê.
‘n Inspekteur van die vereniging het na die toneel gegaan en onmiddellik die hond begin uitgrawe.
Die hond was baie swak, uitgeteer en vol sere. Daar word beweer dat hy in die gat oornag het. Hy was ook half verlam omdat hy vir so lank vasgedruk was.
Lazarus, soos die hond nou bekendstaan, is tans in die hoësorgeenheid van die dierehospitaal in Grassy Park. Sy verlamheid is iets van die verlede en hy herstel goed, het Scarth gesê.
Indien hy ten volle herstel sal hy vir aanneming beskikbaar gestel word.
Inspekteure het Vrydag teruggegaan na die omgewing waar Lazarus gevind was, en het begin rondvra vir inligting oor wie die hond begrawe het.
Indien ‘n persoon skuldig bevind word, kan hy of sy tot ‘n jaar tronkstraf opgelê word of ‘n boete van R300 000 betaal.
- Sapa