Hof weier siek man borgtog
2009-10-01 01:24
Bloemfontein - Abdul Mutalied Rudolph (30) van die Wes-Kaap is Woensdag borgtog in 'n appélhof geweier, ongeag hartversaking gevolg deur twee hartaanvalle.
Hy het 'n aansoek tot appél aan die Bloemfonteinse Appélhof gerig nadat hy borgtog deur die landdroshof en hooggeregshof in Kaapstad geweier is.
Rudolph was op 'n borgtog van R2000 vrygelaat hangende klagtes van poging tot moord en verkragting op sy voormalige vrou.
Daar is in Maart vanjaar 'n interdik deur sy eks-vrou teen hom ingedien.
Hy is beveel om haar nie te dreig nie en is daarvan belet om kontak te maak.
Rudolph het egter die interdik verontagsaam en sy vrou na bewering op 29 April aangerand.
Hy het haar keel na bewering gesny, petrol op haar gegooi en haar aan die brand probeer steek.
Die aanval was onderbreek deur 'n vriend. Rudolph het daarna sy eie keel probeer sny en die toneel gevlug.
Beide Rudolph en sy vrou het die voorval oorleef.
Rudolph (30) het in Mei vanjaar twee reuse-hartaanvalle gehad, asook 'n beroerte wat hom met hartprobleme gelaat het.
Hy het in Junie vanaar tot borgtog aansoek gedoen weens sy fisieke swak toestand.
Die hoogste hof, die Appélhof in Bloemfontein het gevind dat Rudolph as 'n gevangene al die nodige mediese sorg verkry.
- Sapa