Hof verbied polisie om te staak
2010-08-26 05:53
Johannesburg - 'n Tydelike interdik wat alle polisiebeamptes verbied om te staak, is Donderdagoggend in die arbeidshof toegestaan, het 'n nasionale polisiewoordvoerder gesê.
Die interdik verbied verder die polisie- en gevangenisvakbond Popcru om stakings aan te hits of die deelname aan 'n staking te ondersteun, het brig. Sally de Beer gesê.
Sy het gesê lede van die polisie lewer noodsaaklike dienste aan die gemeenskap en word ingevolge die arbeidswet verbied om te staak.
Die polisie se bestuur het die hof genader ná Popcru Woensdag aangekondig het dat sowat 145 000 polisie- en verkeersbeamptes, sowel as bewaarders Saterdag by die voortslepende staatsdiensstaking gaan aansluit.
Die werkers het die regering se aanbod van 7% en 'n behuisingstoelaag van R700 van die hand gewys.
- SAPA