Hof kyk Jub Jub se 'resies-video'
2011-05-27 13:50
Johannesburg – 'n Kort videogreep wat wys hoe die moordbeskuldigdes Molema "Jub-Jub" Maarohanye en Themba Tshabalala vermoedelik resies jaag, is Vrydag in die Protea-landdroshof gespeel.
Die selfoonvideo, wat sowat vyf sekondes lank is, wys hoe twee Mini Coopers langs mekaar wegtrek.
Maarohanye en Tshabalala het na bewering op 8 Maart verlede jaar in 'n groep skoolkinders geploeg.
Vier kinders is dood in die ongeluk en twee ander het ernstige beserings, waaronder breinskade, opgedoen.
Maarohanya en Tshabalala staan tereg op aanklagte van moord, poging tot moord en bestuur onder die invloed van dwelms en alkohol.
Die video is deur Ntokozo Mahlangu opgeneem wat Woensdag getuig het dat sy en haar vriende op die hoek van Mdlalosestraat gestaan het toe sy die twee mans se motors sien.
Sy het aan die hof gesê sy het Jub Jub as een van die bestuurders herken.
Die geskree van meisies kon duidelik op die video gehoor word. Mahlangu het gesê dít is omdat die meisies 'n "bekende" (Jub Jub) gesien het.
Hofverrigtinge is Woensdag gestaak omdat Raymond Mathenjwa, staatsaanklaer, nie die foon kon gebruik nie, omdat dit nie ge-Rica is nie.
Dit is nie deur die registrasieproses ingevolge die Wet op die Onderskepping van Inligting en Voorsiening van Kommunikasieverwante Inligting (Rica) nie en is meer as ses maande laas gebruik.
Mathenjwa het Vrydag aan die hof gesê die polisie se tegniese sentrum het toegang tot die foon verkry.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA