Bredasdorp: Stampvol hof wag op antwoorde
2013-02-27 12:57
Bredasdorp – Die familie van die vermoorde tiener Anene Booysen en dié van 'n man wat weens die misdaad teregstaan, het die Bredasdorp-landdroshof Woensdag volgepak, het die SABC berig.
Die borgtogaansoek van een van die twee mans wat daarvan beskuldig word dat hulle Anene verkrag en vermink het, sal na verwagting Woensdag hervat word.
Die 22-jarige Jonathan Davids het Dinsdag onskuldig gepleit op die aanklagte.
Die families het gesê hulle wil eerstehands hoor wat die oggend van 2 Februarie gebeur het toe Anene aangeval is.
Die hof het Dinsdag gehoor Davids is in Februarie verlede jaar veroordeel op aanklag van diefstal en is 'n opgeskorte vonnis van vyf jaar opgelê.
Davids het ook drie aanklagte van aanranding teen hom gehad wat in September 2007, Januarie 2008 en Oktober 2011 teruggetrek is.
Johannes Kana, die tweede beskuldigde, het intussen skuld beken vir sy aandeel in die misdaad. Hy sal in 'n latere stadium om borgtog aansoek doen.
Anene het op 1 Februarie 'n kuierplek op die dorp besoek. 'n Paar uur later is sy deur 'n groep mans aangerand, verkrag en vermink. 'n Sekuriteitswag het die volgende oggend op haar afgekom, maar sy het later daardie dag in die hospitaal gesterf.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA