Hof hoor hoe dokter verkrag is
2010-11-11 06:21
Volksblad
Bloemfontein - Hulle het geld by die kitsbank in die Pelonomi-hospitaal in Bloemfontein gaan trek toe hulle die dokter sien en besluit het om haar te beroof en te verkrag.
Kapt. Johannes Maseko het voor landdros K. Majali getuig dat dit die rede was wat die 16-jarige beskuldigde aangevoer het waarom hulle die dokter verkrag het.
Maseko, ondersoekbeampte, het Woensdag eerste in die Bloemfonteinse landdroshof in die borgtogaansoek van die drie vermeende verkragters van die 35-jarige dokter in Pelonomi getuig.
Maseko het getuig die 16-jarige het gesê die twee ouer beskuldigdes, Ntsokolo Nkwali (24) en Thabang Motlhabane (29), het die dokter eerste verkrag en hom toe aangesê om “klaar te maak”.
Maseko het verder getuig die minderjarige het gesê die dokter se selfoon, wat in sy besit gekry is, is deur Nkwali vir R85 aan hom verkoop.
In die beursie, wat op die toneel opgetel is, was ’n stukkie papier met drie selfoonnommers op. Maseko het die nommers gebel en al drie die nommers het aan vroulike sekuriteitswagte, wat by Pelonomi diens doen, behoort.
Een van die sekuriteitswagte het Maseko na die groentestalletjie gevat, wat die 16-jarige namens sy oom beman. Hulle het die seun geken.
Die seun het ’n selfoon by hom gehad. Die dokter se man het dit later as haar foon uitgeken.
Hy het volgens Maseko later erken die beursie is syne.
Die seun het gesê hy was nie die enigste een nie en het vir Nkwali uitgewys. Nkwali het op sy beurt vir Motlhabane uitgewys.
Die dokter is met ’n baksteen in die gesig geslaan en het flou geword. Toe sy bykom, was ’n “minderjarige man” bo-op haar, besig om haar te verkrag, het Maseko gesê.
Maseko het getuig hy beskou Nkwali nie as ’n vlugrisiko nie, maar Motlhabane wel, omdat hy “dronk en aggressief” was toe hy in hegtenis geneem is.
Maseko beskou die 16-jarige as ’n vlugrisiko, omdat hy ’n Lesotho-burger en onwettig in Suid-Afrika is.
Al drie beskuldigdes het aangedui dat hulle op alle aanklagte skuld gaan ontken.
Nkwali en Motlhabane het getuig dat hulle mekaar ken, maar ontken dat hulle die seun ken. Hulle het hom wel een of twee keer by die stalletjie gesien.
Albei het getuig hulle het die aand van 29 Oktober tussen 19:00 en 20:00 geld by die kitsbank getrek. Die aanval was op 30 Oktober omstreeks 02:00.
Nkwali het getuig nadat hulle geld getrek het, is hulle in verskillende rigtings en het mekaar later die aand in twee verskillende tavernes weer raakgeloop.
Motlhabane het getuig nadat hulle geld getrek het, is hulle saam na ’n taverne om te gaan kuier.
Hy het Nkwali later die aand weer in ’n ander taverne gesien, maar nie saam met hom gekuier nie.
Al drie regsverteenwoordigers van die beskuldigdes het aangevoer die staat se saak is swak en “bestaan byna nie”, omdat daar slegs op die seun se mededelings aan die ondersoekbeampte staatgemaak word.
Adv. Ena Liebenberg, vir die staat, het gesê borgtog vir Nkwali en Motlhabane is ’n “tameletjie”, omdat die uitslae van DNS-toetse nog nie beskikbaar is nie en die staat swaar steun op die seun se mededelings aan die ondersoekbeampte, al verskil die twee se weergawes van die aand se verloop voor die voorval.
Majali gee op 15 November uitspraak in die borgtogaansoek.
- Volksblad