Hof dwing ANC dalk om tugverhoor te skuif
2011-09-03 12:21
Johannesburg – 'n Regsfirma in die Johannesburgse sakekern het gesê hy sal 'n dringende hofaansoek inhandig om die ANC te dwing om die dissiplinêre verhoor van Julius Malema en ander lede van die ANC-jeugliga uit Luthuli-huis te skuif, het die Saturday Star berig.
"As u ná vandag [Vrydag] met die dissiplinêre verhoor in Johannesburg se sakekern voortgaan, sal ons en ander ondernemings in die sakekern 'n dringende hofaansoek by die Suid-Gautengse hooggeregshof indien teen u organisasie wat u sal dwing om die dissiplinêre verhoor uit die sakekern te skuif, en wat die SAPD en die metropolisie aansê om op te hou om paaie te versper," het BDK Attorneys volgens die koerant in 'n faks aan die ANC gesê.
Volgens die berig het BDK Attorneys, wat op die hoek van Mark- en Simmondsstraat geleë is, aansienlike verliese gely omdat huidige en potensiële kliënte die sakekern vermy uit vrees vir hulle veiligheid.
"Ons kan nie bevestig of ontken dat ons die brief ontvang het nie," het Jackson Mthembu, woordvoerder vir die ANC, Saterdag gesê.
Volgens Mthembu sal die Nasionale Dissiplinêre Komitee (NDK) die finale besluit maak oor of die tugverhoor na 'n ander plek geskuif moet word.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA