Hof beveel stakers om weg van werkplekke te bly
2011-07-13 22:01
Johannesburg – ‘n Tydelike hofbevel is Woensdag toegestaan wat stakers daarvan weerhou om binne 60 meter van hul werkplekke te kom, het twee werkgewerverenigings gesê.
“Ons beskou hierdie hofbevel as ‘n oorwinning vir die regte van werkgewers,” het Johan Pieterse, uitvoerende hoof van die Plastiekomsettersvereniging (PCA), in ‘n verklaring gesê.
Twee-en-twintig organisasies en werkgewers, insluitende die PCA en die Nasionale Werkgewersvereniging van Suid-Afrika (Neasa) het aansoek om dié bevel gedoen.
Volgens Pieterse sal stakers wat die hofbevel verontagsaam aangekla word onder hul werkgewers se dissiplinêre kode en kan hulle ook in hegtenis geneem word.
“’n Lyn is deur die stakers oorsteek en ons sal nie net staan en niksdoen terwyl ons kyk hoe ons land in totale wetteloosheid verval nie. Ek sit vir die eerste keer in 50 jaar by die huis en oorweeg my toekoms in hierdie land nadat ek van ons fabriek se perseel gejaag is deur ‘n spul skurke onder die skyn van Numsa,” het hy gesê.
Ongeveer 170 000 werkers van onder meer die Nasionale Unie van Metaalwerkers van Suid-Afrika (Numsa) en die Metaal- en Elektriese Werkersunie het verlede week ‘n landwye staking van stapel gestuur. Hulle eis ‘n verhogings van tussen 10 en 13 persent en ‘n verbod op arbeidsmakelaars.
Verskeie ander vakbonde vanuit die chemiese-, vervoer-, petroleum- en kragsektors het vandeesweek by hulle aangesluit.
Numsa was nie onmiddellik vir kommentaar beskikbaar nie.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA