Hof beslis vandag oor Lekota se plek in Cope
2010-06-02 08:11
Kaapstad - Die hooggeregshof in Johannesburg sal vandag beslis of Mosiuoa Lekota nog Cope se leier is.
Lekota se aansoek om ’n dringende hofbevel om die besluite van die naweek se chaotiese nasionale kongres tersyde te stel, sal dan aangehoor word.
Die besluite behels die mosie van wantroue in Lekota en Phillip Dexter, kommunikasiehoof, wat verlede Saterdag aanvaar is en die Shilowa-kamp se planne om Lekota-bondgenote uit die parlement te herroep.
Slaag die aansoek, mag dit Lekota dalk net vir drie dae in dié amp herstel, omdat Mbhazima Shilowa en sy bondgenote Vrydag op húl beurt in die hof sal wees om teen die hofbevele te appelleer.
Intussen lyk dit of Cope se leierstryd sy tweede geestelike geëis het. Dr. Allan Boesak het in November as Cope se leier in die Wes-Kaap bedank en na verneem word het Mvume Dandala, parlementêre leier, pas bedank. Hy het gister teruggevlieg Kaapstad toe en kon nie vir kommentaar bereik word nie.
Die Shilowa-kamp wat Dandala die naweek onbestrede as hoofsekretaris benoem het, het gisteraand volgehou hy het geen planne om die party te verlaat nie.
Sipho Ngwema, Cope-woordvoerder, het gesê: “Nie een van ons het ’n bedankingsbrief van hom gekry nie. Dan beteken dit hy het nie bedank nie.”
Volgens hom sal Shilowa se dringende aansoek om te appelleer teen die hofbevel wat hulle verhinder om nuwe leiers te kies Vrydag in die hooggeregshof in Johannesburg aangehoor word.
- Die Burger
Volg Nuus24.com
- Die Burger