Hof beskerm Chanelle se kind
2012-01-24 23:08
Pretoria – Die Noord-Gautengse Hooggeregshof het enige verdere publisering van foto’s of beeldmateriaal van ‘n Pretoriaanse kind wie se ma, Chanelle Henning, verlede jaar doodgeskiet is verbied.
Die hof het die bevel toegestaan nadat Corné Lindeque, ‘n regsverteenwoordiger vir die kind wat deur die hof aangewys is, die aansoek gebring het.
Regter André Louw het ook enige publisering – in druk of deur televisie-materiaal – van enige inligting wat verband hou met die sorg van die kind, die kontak wat hy het of waar hy bly verbied.
Hy het gelas die bevel moet beteken word aan alle groot koerantuitgewers. Enige party wat deur die bevel geraak word, het tot 6 Maart om redes te gee waarom ‘n finale bevel nie toegestaan moet word nie.
Henning is op 8 November deur twee mans op ‘n motorfiets geskiet toe sy in Faerie Glen, Pretoria, bestuur het nadat sy haar kind by ‘n crèche afgelaai het.
Lindeque het die aansoek gebring om verdere blootstelling van die kind in die media te keer ná die borgtogaansoek vandeesweek van André Gouws, een van die mans wat in hegtenis geneem is in verband met die moord.
Lindeque se aansoek is deur die kind se pa en mev. Henning se ouers ondersteun.
Lindeque het in ‘n verklaring gesê ‘n mediastorm het rondom die kind en die familie geheers ná die ma se dood.
Die media het byna onmiddellik ná die moord toegang gekry tot foto’s van die kind saam met die ma. Die foto’s is herhaaldelik in die drukmedia en op televisie gewys, het sy gesê.
“Nie net is ‘n jong kind aan openbare betragting blootgestel nie... maar onsensitiewe en inkorrekte beriggewing oor die details van die ouers se bitter egskeiding het net bygedra tot die sensasie rondom die gebeurtenis.”
Lindeque het gesê die kind ontvang terapie om die trauma van die ma se dood te verwerk.
Die kind “benodig beskerming teen enige sielkundige skade”.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA