Hof: Ongelukfonds moet joernalis vergoed
2009-11-12 14:56
Kaapstad - Die Padongelukfonds (POF) is verantwoordelik vir die skadevergoeding aan die SABC-joernalis Vuyani Green wat in 'n ongeluk beseer is toe hy 'n storie oor 'n brand moes dek, het die Kaapse hooggeregshof Donderdag beslis.
Green het kopbeserings en 'n permanente litteken aan sy gesig opgedoen toe hy en 'n SABC-kameraman, Etienne de Beer, teen 'n stilstaande brandweerwa in dik rook op 'n pad naby Gansbaai gebots het.
Regter Siraj Desai het gesê die bestuurder van die brandweerwa, Willem Damon, het teenstrydige weergawes oor die voorval aan die hof voorgelê.
Dit was duidelik dat hy nie die nodige stappe gedoen het om die aankomende verkeer oor die stilstaande brandweerwa gewaarsku het nie.
Die POF is verantwoordelik vir dié tipe skade soos Green in 'n ander verhoor bewys het.
Desai het gesê die brandweerman was nalatig en dus is dit nie nodig om 'n beslissing te maak oor de Beer se aandeel in die ongeluk nie.
Green eis R700 000 van die POF.
– Sapa