Hoës erken aandeel in Cope se 'mislukking'
2011-04-19 08:46
Johannesburg - Verskeie Cope-hoës het hul aandeel erken “aan die mislukking van Cope wat miljoene Suid-Afrikaners teleurgestel het”.
Dít was hul kommentaar toe hulle Maandag na die ANC teruggekeer het.
Die bekende akteur Hlomla Dandala, een van Cope se stigterslede wat ook na die regerende party teruggekeer het, het “die verbreekte belofte van ’n sterk swart opposisieparty” as “hartseer vir Suid-Afrikaners” beskryf.
“Tog moet ons Cope se sukses onthou – vir die eerste keer het ons gesien die ANC kan uitgedaag word en hy moet steeds op sy tone bly. Maar die vyand was nooit die ANC nie, dit was die bedreiging van (grondwetlike) beginsels.”
Onkgopotse JJ Tabane, voormalige Cope-woordvoerder en parlementsadviseur van Mosiuoa Lekota, nasionale Cope-leier, asook Lunga Kepe, voormalige lid van Cope se nasionale komitee en John Ngcebetsha, voormalige Gautengse voorsitter van Cope, is van die talle Cope-hoës wat na die ANC terugkeer.
Die oorlopery van dié Cope-stigterslede is Maandag in Johannesburg deur Paul Mashatile, Gautengse ANC-leier, en David Makhura, ANC-sekretaris in Gauteng, aangekondig. Ook die sanger Zwai Bala, wat die jeugstemme vir Cope gewerf het, en Lynda Odendaal, Cope se voormalige adjunkpresident, is ook terug in die ANC.
Mashatile het gesê hy verwag nóg Cope-hoës sal terugkeer, terwyl Makhura meen dit is omdat Cope-lede “nie met hul gewete kan saamleef nie”.
Die voormalige Cope-lede meen “die ANC is nie perfek nie en daar’s nog baie uitdagings”, maar dat daar wel nou “verbetering en meer ruimte vir nuwe idees is”.
“Dat die openbare beskermer (OB) sonder inmenging verskeie ANC-leiers kan ondersoek, gee hoop dat daar meer sulke pogings sal wees om korrupsie uit te wis,” het Tabane gesê.
Hy het gesê hulle wou veg dat Cope nie “sy siel aan die DA verkoop nie”, maar dat daar “sprake van ’n ooreenkoms in veral die Port Elizabeth (Nelson Mandelabaai)- en Johannesburgmetroraad is dat Cope met die DA kan saamsmelt.
“Ons weet nie wat het in Desember (met Cope se leiersverkiesing) gebeur nie. Lekota se termyn het verval, maar hy klou aan die leierskap. Shilowa dink hy’s die leier. Daar’s nie ’n ander beskrywing as mislukking nie,” het Tabane gesê.
Lunga het gerugte dat Cope deur oudpres. Thabo Mbeki óf weens die tekort aan ondersteuning vir pres. Jacob Zuma gestig is, ontken.
“Dit was nooit oor ’n man nie. Ons het nooit regtig ’n beswaar teen die president gehad nie. Ons het oor demokrasie gepraat en onder die ANC is die oorlewing van hoofstuk 9-instellings (van die Grondwet – soos die OB) bedreig.”
- Volksblad