Hoës betoon medelye by regter se begrafnis
2011-12-27 11:27
Johannesburg – Politici en ander hoës het die begrafnis van wyle Regter Fikile Bam op sy plaas in Qoqwana buite Mthatha bygewoon.
Hoës wat teenwoordig was sluit in oudpres. Thabo Mbeki, hoofregter Mogoeng Mogoeng, Regter Cheryl Loots van die grondeisehof, Thuli Madonsela, die openbare beskermer, en die premier van die Oos-Kaap, Noxolo Kiviet.
Kiviet het Bam as 'n "Oos-Kaapse legende" beskryf wat hom bemoei het met die kwessie van grondeise in die provinsie.
"Die gebruik van hierdie grond om die landelike mense van die Oos-Kaap te help was wat die naaste aan sy hart was. Hy het alles van homself gegee en sy familie behoort daarin berusting te vind," het Kiviet gesê.
Nomfundo Queen Mahamba, 'n plaaslike inwoner, het Bam as 'n "mense-mens" beskryf.
"Daar is mense in hierdie dorpie wat deur hom skool toe gestuur is en wat nou kwalifikasies het danksy hom," het Mahamba gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA