Reeva se ma vertel van hartseer
2013-02-18 07:00
Johannesburg – "Hoekom? Hoekom my meisiekind? Hoekom het dit gebeur? Hoekom het hy dit gedoen? Hoekom?"
Dít is die vrae van June Steenkamp, wat worstel met die pyn van die verlies van haar 29-jarige dogter, Reeva, berig Times Live.
June het vir die eerste keer in 'n emosionele telefoniese onderhoud vanaf haar huis in Seaview, Port Elizabeth, oor die moord op haar dogter gepraat.
Die model en regsgeleerde Reeva is verlede Donderdag in die Paralimpiese atleet Oscar Pistorius se huis doodgeskiet.
Die 26-jarige Pistorius is in aanhouding sedert die skietery en staan tereg op aanklag van moord – 'n bewering wat hy ten sterkste ontken.
"Sy het liefgehad soos niemand anders kon nie," het 'n emosionele June oor Reeva se liefde vir Suid-Afrika en sy mense gesê.
"Sy het so baie van haarself gehad om te gee en nou is alles weg. Net so, sy is weg... In 'n oogwink en 'n enkele asemteug, is die mooiste persoon wat nog ooit geleef het, nie meer hier nie.
"Al wat ons het is die afskuwelike dood om te hanteer... om te verwerk. Al wat ons soek is antwoorde... antwoorde oor hoekom dit moes gebeur, hoekom ons pragtige dogter so moes sterf."
Die staat het aangevoer dat die moord op Reeva vooraf beplan is. Pistorius is nog nie gevra om te pleit nie.
Volgens aanvanklike berigte het Pistorius aan die polisie gesê hy het begin skiet nadat hy in die vroeë oggendure 'n geluid gehoor het en sy vriendin vir 'n inbreker aangesien het.
Reeva sal Dinsdag ter ruste gelê word – dieselfde dag as wat Pistorius voor hooflanddros Desmond Nair sal verskyn vir die begin van sy borgtogaansoek.
June het haar dogter se liefde vir Suid-Afrika beskryf.
"Sy was so trots daarop om 'n Suid-Afrikaner te wees... Sy was lief vir die land en al sy mense... Dit was die enigste plek wat sy haar huis genoem het."
'n Mediaverklaring sal ná Reeva se begrafnis uitgereik word.
– Volg Nuus24 op Twitter