Hoë van Valke gedreig oor skandaal
2011-09-19 11:00
Johannesburg – Johan Booysen, 'n top-polisieman van die Valke wat 'n ondersoek na reis- en akkomodasie-bedrog van R60 miljoen in die polisie lei, ontvang doodsdreigemente.
Independent Online berig Booysen het sy huis verskeie kere verlaat nadat hy dié dreigemente ontvang het.
Kol. Navin Madhoe (42) is meer as 'n week gelede in verband met die ondersoek in hegtenis geneem.
Madhoe is in hegtenis geneem kort nadat hy omkoopgeld van R1,36 miljoen in die kattebak van Booysen se motor gesit het in ruil vir 'n dokument wat sensitiewe inligting oor die ondersoek bevat.
Hy sou na bewering later die res van die geld betaal.
Tydens Madhoe se borgtogaansoek in die handelsmisdaadhof in Durban het Bheki Manyathi, staatsaanklaer, borgtog teengestaan en gesê die geskorste polisieman sal 'n vlugrisiko wees.
Die staat voer aan die seniorpolisiemanne saam met die Durbanse sakeman Thosan Panday gewerk het om kwotasies van reis- en akkomodasiekoste met tot 400% verhoog.
Die staat het 'n beëdigde verklaring deur kol. Leonard Sherriff, ondersoekbeampte, aan die hof voorgelê wat Madhoe met die sindikaat verbind.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA