Hoë van Tshwane-metropolisie ondersoek
2011-09-13 21:03
Pretoria – Die adjunkhoof van Tshwane se metropolisie, Ndumisa Jaca, word deur drie organisasies ondersoek nadat hy na bewering vervalste nommerplate gebruik het.
Die organisasies wat hom ondersoek, is die Padverkeersbestuurskorporasie (RTMC), die Onafhanklike Klagtedirektoraat (OKD) en die munisipaliteit.
Ashref Ismail, woordvoerder van die RTMC se afdeling vir toepassing en koördinasie, het Dinsdag gesê meer inligting sal later bekend gemaak word.
Tiyani Sambo, woordvoerder van die OKD, het gesê ‘n klagte is oor die nommerplate ontvang en sal ondersoek word.
Pieter de Necker, woordvoerder van die Tshwane-metromunisipaliteit, het gesê die munisipaliteit is bewus van die bewerings en stel ondersoek in.
Die bewerings het verlede week aan die lig gekom.
Die Pretoria News het Dinsdag foto’s van ‘n geel motorfiets en ‘n swart BMW Z4, waarvan albei die nommerplaat BALTY GP gehad het, gepubliseer.
Luidens die berig behoort die motor en motorfiets aan Jaca, wat ook die waarnemende hoof van die metropolisie is.
De Necker het gesê Jaca is genoeg tyd gegun om op die bewerings te reageer en dat die munisipaliteit se ondersoek nie strafregtelik van aard is nie.
Volgens die Nasionale Padverkeerwet van 1996 is die vertoon van vervalste nommerplate strafbaar met ‘n boete of tronkstraf van tot drie jaar.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA