Hoë van Nala geskors ná verslag
2012-01-18 09:00
’n Forensiese ouditverslag wat grootskeepse korrupsie in die Nala-munisipaliteit uitwys, het gelei tot die skorsing van die munisipale bestuurder, David Shongwe.
Shongwe is gister op ’n stadsraadsvergadering geskors, hangende ’n dissiplinêre ondersoek teen hom.
Die LUR vir samewerkende regering, menslike vestiging en tradisionele sake, Mamiki Qabathe, was ook op die vergadering.
Die verslag volg op ’n ondersoek deur KPMG en wys onder meer korrupsie en tender- onreëlmatighede in sowat 50 kontrakte uit.
Nala is tegnies bankrot en het 17 maande laas diensterekeninge uitgestuur.
Die tegniese direkteur van Nala, Sidwell Nxumalo, het verlede jaar bedank toe dit lyk of hy ook geïmpliseer word in die verslag.
’n Ondersoek sal na Shongwe en Nxumalo gedoen word. As daar bevind word hulle was korrup, sal strafregtelike klagte ingedien word.
KPMG sal die ondersoek lei en moontlike klagte namens Qabathe indien.
Cope het reeds klagte teen Shongwe by die Wesselsbron-polisiekantoor ingedien.
Shongwe se skorsing is wyd verwelkom.
Hettiene von Abo-Moolman, voorsitter van die Nala-besigheidsforum, sê dié forum is verheug oor die skorsing en hoop Shongwe word suksesvol vervolg as daar bevind word hy was korrup.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Volksblad