Hoë komitee kyk na Iran-sanksies
2012-02-15 08:02
Kaapstad. – ’n Kabinetskomitee sal vandag die uitwerking van sanksies teen Iran op Suid-Afrika se brandstofsekerheid bespreek.
Die VSA en Europese Unie se sanksies teen Iranse olie-uitvoer tree in Julie in werking.
Die spanning tussen Amerika en Iran laai op oor dié land se kernprogram en die sanksieplanne het al vandeesmaand die prys van Brent-ruolie tot die hoogste vlak sedert Augustus verlede jaar laat styg.
Die Internasionale Energie-agentskap die wêreldwye vraag na olie sal vanjaar met 1% styg. Die organisasie sê tot 1 miljoen van die 2,6 miljoen vate per dag wat van Iran gekoop word, sal deur ander voorraad aangevul moet word wanneer die sanksies in werking tree.
Thandeka Zungu, bedryfshoof van die departement van energie, het Dinsdag gesê die komitee se besprekings sal oor verskaffing aan Suid-Afrika handel.
Dit sluit in die vermoë van PetroSA se Saldanha-oliebergplek om in te tree as die sanksies Suid-Afrika begin raak.
Zungu het gesê die gerief kan 10 miljoen vate per dag berg.
Gesprekke word ook gevoer met raffinaderye in private besit om te bepaal of berging van die geraffineerde produk verskaffing kan verseker.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld