Hlophe se seun kry boete vir bedrog
2012-06-25 21:17
Kaapstad – Thuthuka Hlophe, seun van die Wes-Kaapse Regterpresident John Hlophe, moet ‘n boete van R10 000 betaal of ses maande tronkstraf uitdien vir bedrog.
Hy is tot ‘n bykomende 12 maande tronkstraf, sonder die opsie van ‘n boete, maar voorwaardelik opgeskort vir drie jaar, gevonnis.
Hlophe het Maandag in die Bellville-streekhof in Kaapstad voor landdros Kenny Pieterse verskyn.
Pieterse het hom beveel om R8 000 terug te betaal wat ‘n vriend aan hom geleen het. Die vriend was onder die indruk dat ‘n tjek vir R8 000 wat Hlophe in die vriend se rekening gedeponeer het, goed was.
Die tjek het egter “gehop”.
Maandag se verrigtinge het die vorm aangeneem van ‘n pleitooreenkoms vir die tweede maal, maar hierdie keer is dit onderhandel deur Hlophe se nuwe regspan, Thembalihle Sidaki en die prokureir Njabula Masuku.
Die klag wat verband hou met die R8 000 het betrekking gehad op een van die drie aanklagte van bedrog wat as een hanteer is. ‘n Tweede aanklag van bedrog het verband gehou met twee tjeks wat Hlophe geskryf het om ‘n luukse motor te huur. Die derde het verband gehou met ‘n lening waarvoor Hlophe by Capitec Bank aansoek gedoen het met sy neef se identiteitsdokument.
Op ‘n vierde aanklag het Hlophe skuldig gepleit dat hy die Wet op Identifikasie oortree het. Dit het verband gehou met die gebruik van sy neef se identiteitsdokument vir die banklening.
Hiervoor is Hlophe gevonnis tot ‘n bykomende ses maande tronkstraf, voorwaardelik opgeskort vir drie jaar.
Sy regspan het versoek dat Hlophe toegelaat word om die R10 000 in paaiemente af te betaal – waarvan die eerste onmiddellik moet plaasvind en die tweede voor 7 Augustus. Die versoek is toegestaan.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA