Hittegolf tref SA
2013-01-25 11:18
Johannesburg – Verskeie dele van die land ervaar die derde dag van 'n intense hittegolf, het die Suid-Afrikaanse Weerdiens Vrydag gesê.
Puseletso Mofokeng, weervoorspeller, het gesê temperature was tussen 35°C en 40°C in sommige dele van die Vrystaat, die Noord-Kaap, Noordwes, Limpopo, Mpumalanga en Gauteng.
Hoewel baie gebiede hoë temperature ervaar, is nie almal in die hittegolf-kategorie nie.
"Ons kyk na die warmste maand van die jaar, Januarie, en kyk na die gemiddelde waarde van die hoogste temperatuur. 'n Hittegolf vind plaas wanneer rekordtemperature drie agtereenvolgende dae 5°C hoër is as die normale temperatuur," het Mofokeng gesê.
Die hittegolf sal na verwagting tot Maandag duur, met reën wat ook die naweek verwag kan word.
"Daar is vanaand 'n 60% kans vir reën oor Gauteng," het Mofokeng gesê.
"Verspreide buie word ook Saterdag en Sondag vir KwaZulu-Natal, die Vrystaat, die Noordwes, Limpopo en Mpumalanga voorspel."
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA