Historiese SA-vlag word opgeveil
2010-02-03 22:19
Johannesburg – Die Suid-Afrikaanse vlag wat tydens oudpres. Nelson Mandela se inhuldiging in 1994 met behulp van ‘n helikopter oorgevlieg was, gaan in Maart opgeveil word.
Bonhams, wat die veiling gaan hanteer, het in ‘n verklaring gesê dat die groot vlag was deur die voormalige president Thabo Mbeki, Mandela en FW de Klerk geteken, en sal maklik vir tussen R120 000 tot R180 000 opgeveil kan word.
Dit sal met ‘n sertifikaat van oorspronklikheid, wat deur Mandela op 10 April 1994 geteken is, verkoop word.
Die vlag was deur die vlieënier, maj. Louis de Waal van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag oorgevlieg, tydens Mandela se inhuldiging by die Uniegebou in Pretoria.
Die seremonie is deur verskeie politici en hooggeplaastes van ongeveer 140 lande regoor die wêreld bygewoon.
Die vlag gaan op 24 Maart by die Bonhams South Africa Art Sale opgeveil word en sal ook die werk van kunstenaars soos Sekoto en Pierneef vertoon.
- Sapa