Historiese SA-vlag verkoop
2010-02-19 01:12
Johannesburg - 'n Suid-Afrikaanse sakeman wat in Londen woon, het 'n historiese Suid-Afrikaanse vlag met die handtekeninge van oudpresidente FW de Klerk, Nelson Mandela en Thabo Mbeki gekoop.
Dié vlag sou in Maart opgeveil word, maar is aan die sakeman, wat anoniem wil bly, vir 'n onbekende bedrag deur die afslaers Bonhams in Londen verkoop.
"Die vlag is verkoop op voorwaarde dat dit teruggebring word na Suid-Afrika en aan die regering oorhandig word," het Julian Roup, 'n woordvoerder van Bonhams, gesê.
Die vlag was een van vier wat tydens Mandela se inhuldiging op 10 Mei 1994 onderaan vier Oryx-helikopters van die lugmag in ’n verbyvlug gewapper het.
Die betrokke vlag was destyds onderaan die helikopter van maj. Louis de Waal, ’n lugmag-helikoptervlieënier. Dit is hy wat die vlag wou laat opveil.
Dié vlag sou na verwagting tussen R120 000 en R180 000 op die veiling haal.
Die Suid-Afrikaanse regering het die vlag as "'n deel van Suid-Afrika se geskiedenis" beskryf en gesê hy sal planne maak om dit terug te kry.
– Sapa