Hervormers groet apartheid
2010-10-02 08:20
Pretoria - Die Hervormde Kerk het gister van apartheid afskeid geneem.
Die algemene kerkvergadering het in Pretoria met 245 stemme (of 58,6% van die stemme) teen 173 ’n besluit geneem wat hom van enige teologiese regverdiging van apartheid distansieer en ekumeniese deure vir die kerk kan laat oopgaan.
Die volledige besluit lui:
“Die 69ste algemene kerkvergadering maak in die lig van die 68ste algemene kerkvergadering se besluit dat dit ‘verkeerd was om ’n bepaalde regeringsbeleid (apartheid) goed te praat’, onomwonde die uitspraak dat apartheid nie teologies geregverdig kan word nie.
Die kerk verwerp sy goedkeuring van apartheid omdat dit:
- in stryd is met die evangelie van Jesus Christus gebaseer op die idee van onderlinge onversoenlikheid;
- onreg sanksioneer; (en)
- die beeld van God in mense aantas.
“Die vergadering beklemtoon die Bybels-teologiese aard van die verklaring.”
Emosies het ná die besluit van ekstase tot groot ontsteltenis gewissel. Teen die een muur van die vergaderlokaal het ’n lang tou afgevaardigdes gestaan om hul teenstem teen die besluit te gaan aanteken. Van die dominees het oproepe gemaak om Sondag reeds die saak met hul kerkrade te bespreek.
Daarteenoor het prof. Theuns Dreyer, vorige voorsitter, die besluit as ’n “kwantumsprong in die geskiedenis van die Hervormde Kerk” bestempel.
“Dit gaan nou duidelik word op watter fondament die Hervormde Kerk gebou is. As dit op die fondament van apartheid was, sal die Hervormde Kerk skeur. As dit op die fondament van Jesus Christus was, sal die Hervormde Kerk van krag tot krag gaan,” het Dreyer gesê.
Dr. Daan van Wyk, voorsitter, het gesê die vergadering het vooraf besluit dat sy werk onder die Heilige Gees se leiding staan.
Hy het gevra dat die besluit in daardie lig aanvaar word.
Met dié besluit wil die Hervormde Kerk voldoen aan die vereistes wat die Wêreldgemeenskap van Gereformeerde Kerke (WGGK) vir toelating tot dié ekumeniese organisasie gestel het.
Dr. Kobus Gerber, lid van die uitvoerende komitee van die WGGK, het dit as ’n heuglike dag bestempel.
Die uitvoerende komitee van die WGGK vergader in Mei volgende jaar. Die Hervormde Kerk se aansoek om lidmaatskap kan dan oorweeg word.
Gerber het gesê teologies kan die Hervormde Kerk ’n geweldig belangrike rol in die WGGK speel.
Daar is volgens hom ’n groot behoefte aan goeie teologie en die Hervormde Kerk is daarvoor bekend dat hy van die heel beste reformatoriese teologie lewer.
* Word deel van Nuus24 se
Facebook-gemeenskap.
- Beeld