Hervormde Kerk bekyk eg, gay verhoudings opnuut
2010-09-01 08:37
Johannesburg – Die Hervormde Kerk se algemene kerkvergadering einde September gaan die huwelik en gay verhoudinge opnuut bekyk.
Uit die agenda is dit duidelik dat daar minstens twee uiteenlopende denkrigtings daaroor is. Teenoorstaande aanbevelings gaan dan ook voor die vergadering dien.
Aan die een kant lui die tradisionele standpunt (wat die komitee vir huweliks- en ander sinvolle verhoudingsmoontlikhede huldig) dat die huwelik die enigste ruimte is waarin man en vrou in gehoorsaamheid aan die Woord van God kan saamleef.
Daarmee word geen kerklike ruimte vir saamblyverhoudings gelaat nie. Ook gay huwelike is uit omdat die kerk die huwelik nog moet beskou as die verbintenis tussen een man en een vrou.
Daarteenoor vra die ring van Johannesburg dat die kerk “ruimte in die geloofsfamilie moet skep vir alle betekenisvolle verhoudingsmoontlikhede wat by die evangelie pas”.
Dit sou gay verbintenisse en saamblyverhoudings kon insluit waarin evangeliese waardes soos liefde, respek en trou die verhoudings vorm.
Dié voorstel vra by implikasie ’n totaal nuwe manier om na verhoudinge te kyk. Die waardes wat in die verhouding neerslag vind, is die maatstaf.
Die agenda bevat ook voorgestelde riglyne vir ouderlinge om gay lidmate op nie-veroordelende manier te hanteer.
Dié verslag waarsku dat kerklike debatte oor homoseksualiteit die idee by gay mense vestig dat God hulle veroordeel, uitsluit en verwerp. Hulle vrees dat God ’n veroordelende God is.
Ouderlinge moet sulke mense help om te verstaan dat God ’n liefdevolle Vader is. Hy het alles denkbaar opgeoffer ter wille van die verlossing van mense uit hul sondenood.
“Jesus het gekom om in te sluit. Hy het God se liefde kom demonstreer. Hy aanvaar elkeen wat in die geloof na Hom roep – ongeag sy/haar seksuele oriëntasie,” lui die verslag.
Dit lui egter ook God se liefde is nie ordeloos nie.
Ouderlinge moet mense daarom daarop wys dat God nie sonde duld nie.
“’n Losbandige seksuele lewenstyl, ongeag of dit homoseksueel of heteroseksueel is. Die Bybel wys losbandigheid en ontrouheid ten sterkste af omdat dit seksuele praktyke is wat selfsugtig fokus op die bevrediging van die eie egosentriese seksuele behoeftes. Dit verneder en vernietig mense rondom jou en vernietig God se beeld in jou.”
Die algemene kerkvergadering begin op 26 September in Pretoria.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Beeld