Hersiening van lone duur dalk langer
2012-11-20 09:16
Kaapstad – Die departement van arbeid se onderneming om die minimumloon vir alle plaaswerkers te hersien, kan dalk langer neem as wat aanvanklik verwag is, het die Cape Times Dinsdag berig.
Musa Zondi, woordvoerder van Mildred Oliphant, minister van arbeid, het gesê die hersiening word bepaal deur onderhandelings wat meer as twee weke kan duur.
"Jy verstaan die werkers se standpunt, maar jy kan nie 'n tydsberekening plaas op kwessies waar onderhandelings plaasvind nie. Baie dinge word uitgelig in die onderhandelings."
Die departement het verlede week 'n kennisgewing gepubliseer om die huidige sektorale bepaling vir die landbousektor te kanselleer. Dít volg ná gewelddadige betogings deur plaaswerkers in die Wes-Kaap.
Die meeste van die plaaswerkers, wat daagliks tussen R69 en R75 verdien, eis 'n daaglikse loon van R150.
Die koalisie van plaaswerkerverteenwoordigers het die regering tot 4 Desember kans gegee om 'n daaglikse loon van R150 in te stel en ag te slaan op werkers se eise, soos verbeterde leeftoestande.
Zondi het aan die koerant gesê Oliphant sal Woensdag vanaf Genève, Switserland, terugkeer en vergader Donderdag met die kommissie oor werknemersvoorwaardes.
Die kommissie sal na verwagting die minister raadpleeg oor hoe om die sektorale bepaling te doen, het Zondi gesê.
Oliphant sal dan voorstelle van ander partye oorweeg.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA