Herrie oor Mandela-outopsieskildery
2010-07-09 10:40
Johannesburg – ‘n Skildery met die lyk van oudpres. Nelson Mandela wat ‘n nadoodse ondersoek ondergaan veroorsaak omstredenheid in ‘n Johannesburgse winkelsentrum, het die Mail & Guardian Vrydag berig.
Die skildery is ‘n moderne weergawe van die 17de eeuse Rembrandt skildery, "The Anatomy Lesson of Dr Nicolaes Tulp."
Dié skildery handel oor ‘n nadoodse ondersoek wat voor ‘n groep dokters uitgevoer word.
In die kunstenaar Yiull Damaso se weergawe is Mandela die lyk en Nkosi Johnson, die ontslape vigskampvegter, doen die nadoodse ondersoek.
Emeritus-aartsbiskop dr. Desmond Tutu en oudpres. FW de Klerk, pres. Jacob Zuma, Cyril Ramaphosa, Trevor Manuel, oudpres. Thabo Mbeki en Helen Zille is die ‘groep dokters’ wat toekyk.
Die Hyde Park-winkelsentrum, waar die skildery uitgestal word, het die afgelope week lelik deurgeloop.
‘n Vriendin van een van Mandela se dogters het Damaso glo gekontak en ingelig dat Mandela se dogter baie ontsteld is oor die skildery.
“Volgens die vriendin is die Mandelas steeds bedroef oor 'n onlangse sterfte in die familie,” het Damaso gesê.
Nicola van Kan, bemarkingsbestuurder van die winkelsentrum, het aan die koerant gesê hulle voel die skildery is omstrede, maar hulle ondersteun vryheid van uitdrukking en kuns.
“Nadat ons klagtes oor die skildery ontvang het, het ek met Damaso gaan praat. Hy het die betekenis van die skildery aan my verduidelik en ons is gelukkig daarmee,” het Kan gesê.
Oor die herrie rondom die skildery het Damaso aan die koerant gesê Mandela sal een of ander tyd sterf en dit is iets wat ons moet aanvaar, as individue en as ‘n nasie.
Mandela word op 18 Julie 92 jaar oud.
In 2000 het Damaso ‘n reeks skilderye van Mandela met 'dreadlocks,' as ‘n bejaarde persoon en een waar hy bokshandskoene aanhet, gemaak.
Die Nelson Mandela-stigting het glo ‘n probleem met die skilderye gehad.
“Hulle het aan my gesê die beeld het kopiereg. Maar hoe kan jy kopiereg op ‘n publieke figuur hê?” het hy aan die koerant gesê.
- Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA