Herrie oor Khayelitsha-toilette duur voort
2010-06-01 11:00
Kaapstad – Inwoners van Khayelitsha het betogings voortgesit in protes teen die verwydering van 65 toilette in die Makhaza-nedersetting.
Volgens kapt. Anneke van der Vyver is binnebande op ‘n voetbrug by die R300 gebrand en die N2 is met sementblokke en brandende binnebande versper.
“Die versperrings op die N2 is verwyder en die snelweg is weer oop vir verkeer,” het sy kort ná 08:00 Dinsdagoggend aangekondig.
Van der Vyver het bygevoeg dat polisiewaens met klippe bestook is, maar dat die situasie vinnig onder beheer gebring is.
“Polisiemagte is in die area gestasioneer om beheer te behou oor die situasie en motoriste te beveilig,” het Van der Vyver bygevoeg.
Die ANC-jeugliga se provinsiale sekretaris, Loyiso Nkohla, en vyf ander lede van die liga is Dinsdag in hegtenis geneem in verband met die betogings.
Die inwoners van Khayelitsha is ontevrede oor die verwydering van toilette wat nié mure het nie.
Die ANC-jeugliga het die toilette se mure verlede week afgebreek.
Dan Plato, burgemeester van Kaapstad, het beloof om die toilette terug te sit sodra inwoners die beskuttings weer oprig.
“Stad Kaapstad is daarvan weerhou om beskuttings vir die orige toilette op te rig.
“Ons het daarom besluit om die toilette te verwyder tot en met geskikte beskuttings weer opgerig word.
“Ons is bereid om al die toilette weer terug te sit sodra die gemeenskap ‘n ooreenkoms met die ANC-jeugliga kan bereik,” het die burgemeester gesê.
– Sapa
Volg Nuus24 op Twitter