Herrie ná rugbyskole kinders ‘omkoop’
2010-06-08 07:08
Die Burger
Johannesburg – Kom kyk rugby en kry ekstra akademiese punte.
Sommige ouers is woedend oor dié wortel wat voor leerders se neuse gehou is om hulle aan te moedig om die FNB Classic Clash-rugbywedstryd tussen die hoërskole Marais Viljoen en Monument in Krugersdorp by te woon.
Die Burger se noordelike susterskoerant Beeld het klagtes van ouers van dié skole gekry nadat leerders Saterdag op dié manier na die wedstryd gelok is.
By Marais Viljoen is daar vir leerders gesê hulle sal tien punte by hul wiskunde-uitslae kry.
Monument het leerders 5% beloof vir volgende semester se eerste toets, ongeag watter vak dit is.
’n Ontstelde ouer, wat anoniem wou bly, het gesê: “Só word sport verafgod en lyk dit of die boodskap is dat akademie maar daarvoor verkoop kan word.”
Nog ’n ouer het gesê kinders kan nie integriteit aanleer as hulle glo hulle kan omgekoop word nie. “Ek begryp dat skole worstel om vandag se kinders te motiveer, maar om dié wortel voor hulle te hou, is nie reg nie.” Punte vir lojaliteit sou ook dalk meer sinvolle erkenning gewees het.
Die vraag is ook gevra of die skole in ag geneem het dat die “gratis” punte ’n impak op beurse kan hê.
Sampie Pienaar, beheerliggaamvoorsitter van Marais Viljoen, het gesê dit was toevallig dat albei skole die leerders op dié manier wou motiveer.
Hulle neem kennis van ouers se besware. “Die werklikheid is egter dit werk nie vandag om vir ’n kind te sê daag asseblief op nie. Hulle kyk jou snaaks aan en vra: ‘Rêrig?’?Ons het dit tien punte gemaak omdat dit nie ’n noemenswaardige verskil aan die kinders se (finale) punte kan maak nie.”
Volgens Pienaar het die skool uit sy pad gegaan om ’n sukses van die dag te probeer maak. Bykomende busvervoer is selfs gereël.
“Ons het die kinders op dié manier bereik en uiteindelik meer as 950 op die paviljoen gehad.”
Christo Swart, voorsitter van Monument se beheerliggaam, het gesê dié motivering is geensins “normale praktyk” nie. Die wedstryd was baie belangrik omdat dit uitgesaai is. “Ons wou geesdrif by die leerders wek.”
Daar is ook besluit om leerders só aan te spoor omdat dit bloktyd is en nie almal by die skool is nie.
Die Gautengse onderwysdepartement gaan die saak ondersoek.
Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger