Henning se man geïmpliseer
2012-01-18 07:01
Pretoria – Chanélle Henning se vervreemde man, Nico, is Dinsdag hier in die streekhof ten tyde van die getuienis van die ondersoekbeampte in die saak as ’n moontlike verdagte in haar huurmoord geïmpliseer.
Kapt. Peet van der Spuy het in die borgtogaansoek van André Gouws, een van die twee oorblywende moordverdagtes, verwys na ’n telefoonoproep tussen mnr. Henning en Gouws kort voor die moord op me. Henning. In dié gesprek is glo besluit om haar later as beplan te vermoor.
Gouws is een van vyf mans wat kort ná me. Henning se moord op 8 November 2011 in hegtenis geneem is.
Volgens Van der Spuy is me. Henning (26) vermoor slegs twee dae voordat ’n hof sou besluit of sy of haar man toesig oor hul vierjarige seuntjie, Benji, sou kry.
“Sy was besig om van mnr. Henning te skei. Dit was ’n uitgerekte saak omdat hulle nie ’n ooreenkoms oor die toesig van die kind kon bereik nie.
“Die hooggeregshof het ’n advokaat as kurator vir die kind aangestel. Sielkundiges moes ook albei ouers evalueer vir bevoegdheid.
“Die saak sou weer 10 November aangehoor geword,” het Van der Spuy gesê.
Hy het bygevoeg dat Gouws op die Hennings se troue was. Hy het ook gereeld saam met mnr. Henning gekuier en vakansie gehou.
Daarby het Gouws glo me. Henning en haar prokureur tydens die hofstryd om die kind gevolg en video-opnames van hulle gemaak.
“Hy het dit erken nadat die prokureur dit in die hooggeregshof op rekord geplaas het. Hy het gesê hy doen dit op eie inisiatief vir ’n vriend,” het Van der Spuy beweer.
Op 4 November het Gouws glo met mnr. Henning oor die foon gepraat. Van der Spuy het gesê die foon was volgens Willem Martinus (Pike) Pieterse en Gerhardus du Plessis op luidspreker.
Hulle kon hoor hoe daar gevra is waar ’n kind daardie naweek sou wees.
Die woorde: “The bitch has the baby this week-end”, is blykbaar gehoor en is daar besluit om die moord uit te stel.
“Die gesprek van 326sekondes was met Nico Henning. Dis met foonrekords bevestig,” het die ondersoekbeampte getuig.
Pieterse en Du Plessis is elk vroeër tot 18 jaar tronkstraf gevonnis nadat hulle skuld op onder meer ’n aanklag van moord beken het.
Gouws het gister in sy borgtogverklaring gesê as dit nie vir dié twee mans se verklarings was nie, die staat geen saak teen hom sou hê nie.
Die ondersoekbeampte het egter gevoel hulle het ’n sterk saak teen Gouws.
Volgens Van der Spuy het Gouws sy een mede-beskuldigde, Ambrose Monye, “gekontrakteer” vir die sluipmoord.
Op 5 Oktober 2011 is R10 000 in Monye se rekening betaal.
Monye het toe glo vir Pieterse aan Gouws voorgestel.
Op 2 November het Gouws klaarblyklik vir Du Plessis en Pieterse gaan wys waar me. Henning woon en werk en waar Benji se skool is.
“Ons het videomateriaal en selfoonrekords wat die ontmoeting bevestig,” het Van der Spuy getuig.
Die ondersoekbeampte het bygevoeg: “Die persoon wat die finale voordeel uit die moord sou kry, is uitstaande. Ons ondersoek nog sy betrokkenheid, maar ons verwag nog inhegtenisnemings”.
Die borgtogaansoek gaan volgende week voort.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld