Henning-moordverhoor duur voort
2012-12-03 07:00
Johannesburg – Die verhoor van twee mans wat daarvan beskuldig word dat hulle Chanelle Henning vermoor het, duur voort in die Pretoriase hooggeregshof.
Ambrose Monye, 'n voormalihe Nigeriese Olimpiese atleet, en André Gouws staan tereg op aanklagte van moord, sameswering om moord te pleeg, sameswering om 'n onwettige vuurwapen en ammunisie te koop en die besit van 'n onwettige vuurwapen en ammunisie. Monye en Gouws het onskuldig gepleit.
Die veroordeelde moordenaar Gerhardus du Plessis het Vrydag erken dat verskeie vergaderings gehou is om Henning se moord te beplan.
Du Plessis, 'n voormalige polisieman wat 'n pleitooreenkoms met die staat aangegaan het, is deur adv. Gerrie Nel, staatsaanklaer, onder kruisverhoor geneem toe hy aan die hof gesê het hy, Willem Pieterse, Gouws en Monye het verskeie kere ontmoet om die aanval te beplan.
Pieterse het ook 'n pleitooreenkoms met die staat aangegaan.
Pieterse en Du Plessis beweer Monye het hulle gehuur om Henning dood te skiet en onderneem om hulle elk R10 000 te betaal. Dié twee is elk tot 18 jaar tronkstraf gevonnis vir hul aandeel in die moord.
Twee mans op 'n motorfiets het die 26-jarige Henning doodgeskiet kort nadat sy haar seun by 'n kleuterskool afgelaai het.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA